top of page

SA JAGTER/HUNTER | Maart-April 2023 |Deur PIETA OOSTHUIZEN

Mannlicher staan sy man.jpg

MANNLICHER STAAN SY MAN 

Die meer as ’n eeu oue 6.5x54 Mannlicher-Schönauer staan definitief sy man tussen ander in die galery van jagkalibers. 

​

’n Mannlicher het nog altyd vir my ’n sekere bekoring ingehou. Net soos ’n Mauser, laat dit my met heimwee terugdink aan ’n vervloë era en die Afrika van weleer. Dit tower beelde op van maandelange safari’s op die Donker Kontinent, koloniale beamptes in Portugees- Oos-Afrika, ivoordraers met honderdpond-olifanttande oor die skouers, kloktente onder groot kremetarte en stringe buffelvleis aan bome om in die kamp se behoeftes te voorsien. ’n Mannlicher plaas jou onmiddellik in uitgelese geselskap. Groot name soos “Karamojo” Bell en Ernest Hemingway het aan die Mannlicher blywende status verleen tot vandag toe.

 

Veral iemand soos Bell het onbewustelik baie gedoen om die Mannlicher aan die breë jagterspubliek bekend te stel. Sy ongeveer 300 olifante wat hy met die 6.5x54 Mannlicher Shönauer gejag het, het ongetwyfeld die Mannlicher se staanplek in die galery van jagkalibers verewig. Die feit dat hy ook ’n langloop- 6.5x54 Mannlicher met sagte loodpunte gebruik het om iets vir die pot te skiet, spreek boekdele vir dié kaliber. Volgens hom het hy die kaliber op enigiets gebruik, van gewone kleinwild tot kameelperde, om sy hele geselskap wat soms uit tot 200 mense bestaan het, se potte aan die kook te hou. Hemingway se gunstelingkaliber was die .30-06 Springfield. Tog het hy die 6.5x54 Mannlicher-Schönauer, waarna hy kortliks verwys het as die .256 Mannlicher, hoog aangeslaan.

 

Dit is te verstane, want die Mannlicher is baie suksesvol in Afrika deur sy gids en professionele jagter, Phillip Percival, as kaliber tydens leeujagte gebruik. Phillip se ouer broer, Blayney, was self baie beïndruk met die Mannlicher Shönauer: “I shot most of my lions, say forty, with the .256. I do not remember exactly, but feel sure that twothirds of the lions did not need a second bullet.” John “Pondoro” Taylor, een van die laaste groot ivoorjagters tydens die vorige eeu in Oos- Afrika, het hom soos volg oor die Mannlicher-Schönauer uitgelaat: “The lightness and handiness of these little short-barelled MS rifles appealed greatly.”

 

Alhoewel nie ’n grootwildkaliber nie, het Taylor se ervaring van grootwild en grootwildgewere sy uitsprake oor die Mannlicher gesaghebbend gemaak. Die uitstaande vakmanskap, uitstekende slotaksie en veral die akkuraatheid van dié kaliber het verder tot die Mannlicher se gewildheid bygedra. Voeg daarby ook unieke eienskappe soos die volkolf en die slot met sy bottermesgreep, en jy kan verstaan waarom die 6.5x54 Mannlicher- Schönauer een van die gewildste jaggewere van sy tyd was, veral aan die begin van die 20ste eeu.

 

Die kort loop van hierdie unieke kaliber met die klankryke naam was en is nog steeds ’n groot pluspunt wanneer in digte boswêreld gejag word. Dis maklik en gerieflik om koes-koes daarmee te loop en op die spoor voor jou te konsentreer eerder as op die oorhangdoringtakke bokant jou. ’n Belangrike feit wat Bell verder met sy gebruik van die Mannlicher onderstreep het, was dat skootplasing uiters belangrik is en dat die suksesvolle afloop MARCH – APRIL 2023 | SA HUNTER 31 van enige jagtog nie net van die soort kaliber afhang nie. Sy indrukwekkende vertoningslys het bewys dat ’n perfekte breinskoot op ’n olifant met ’n 6.5x54 Mannlicher-Schönauer net so effektief is soos ’n perfekte breinskoot met ’n grootwildkaliber. Ek het dit self onlangs weer op ’n pa-en-seun-jag ervaar, waar die Mannlicher my opnuut beïndruk het.

 

Pa-en-seun-jagtogte, waar jy alleentyd saam met jou seun in die veld kan deurbring, is altyd baie kosbaar. Tydens sulke geleenthede hoef ’n mens ook nie noodwendig met ’n bokkarkas huis toe te gaan nie. Natuurlik sal dit help om te verseker dat daar genoeg wildsbiltong vir koue aande om die kaggelvuur is, maar dit maak nie jou jagtog noodwendig meer suksesvol nie. Die eerste prys is mos om in mekaar se geselskap te wees en saam die wonder van die natuur te beleef – die prag van die Afrikabos, die Kalahari se rooi sand en kameeldoringbome, die Oos- Kaapse ruigteveld of die uitgestrektheid van die Vrystaat. Met jou seun aan jou sy en ’n Mannlicher oor die skouer word al hierdie jagbestemmings en jagtogte baie meer intens beleef. Vir ander lyk dit miskien net na nóg ’n biltongjag, maar vir dié wat weet, is dit kos vir die siel.

 

Dit was reeds laatmiddag toe ek en Pietman, my 20-jarige seun, ons hartsgewere oor ons skouers gegooi het en koers gekies het veld toe. Natuurlik mag ’n mens meer as een hartsgeweer hê, en daar is niks mee fout as dit eers pa se hartsgeweer was, toe joune en nou jou seun s’n nie. Oor Pietman se skouer was die geweer waarmee ek grootgeword het, maar wat nou sý hart se punt was – die .308 Winchester met sy Mauser-slotaksie en Musgraveloop. Die Mannlicher se geweerband was oor my skouer en die volkolf het gerusstellend agter my blad gehang. Anders as Karamojo Bell, was ons nie na honderdponders in die digte bos op soek nie. As ons dit kon verhelp, wou ons ook nie opvolgskote skiet soos Phillip Percival soms genoodsaak was om met die Mannlicher te doen nie. Nee, ’n enkele Bell-breinskoot op ’n koedoe of eland was die eerste prys op hierdie jag.

 

Ons velskoene het sommer dadelik nuwe spore in ou voetpaaie getrap en ons gefluister het opgedroog hoe digter die bos om ons gevou het. Tekens van koedoes en elande was volop, maar die bos het sy kinders se skuilplek geheim gehou. Oorkant ons was die betowering van die berg, bokant ons die hemelblou en rondom ons het die magiese stilte van die bos gehang. ’n Oorhangkrans op ’n plat rant aan ons regterkant het my oog gevang. Dit was die ideale voorsitplek. Vanuit dié hoogte kon die wild se bewegings fyn dopgehou word. Voor die krans was plat, uitgestrekte savannaveld met verspreide doringbome. Verderaan was ’n digte plaat doringbos weerskante van ’n droë rivierloop – die perfekte wegkruipplek vir Afrika se viervoetige kinders.

 

Anderkant die rivier het die berg met sy geheimenisse gelê. Die een of twee duidelik uitgetrapte voetpaaie na en van die krans het Pietman laat besluit om bok se kind daar voor te lê. Ek is alleen verder vorentoe met die rivierloop en die ranteveld aan my linker- en regterkant onderskeidelik. Stadig maar seker het die son sy sirkelgang voltooi en lang skaduwees oor die Afrikaveld begin gooi. My beterwete en ek het al begin stry oor omdraai terug kamp toe of nog net ’n klein rukkie die sakkende son se strale trotseer op soek na die spiraalhorings van die ontwykende Kaapse eland of die krulhorings van ’n koedoe. Die fluisterstemme in my binneste was besig om ten gunste van omdraai te besluit toe die koedoes soos skimme uit ’n ander wêreld my gesigsveld betree. My hart het ’n slag of wat gemis en ’n dringendheid het van my besit geneem. Weg was alle gedagtes aan ’n flikkerende vroegaandkampvuur. My gedagtewêreld is volkome in beslag geneem deur die ritmiese gewieg van daardie magiese krulhorings bokant die streep bosse en lang gras voor my... Die Mannlicher het moeiteloos van my skouer gegly. Stadig het my hand om die unieke slot gevou, dit opgelig, teruggetrek en geluidloos ’n patroon uit die magasyn in die loop gestoot. Sonder ’n klikgeluid het ek die slot toegemaak en in die stilligheid ’n skietgebed opgestuur en Otto Schönauer en Ferdinand Mannlicher heimlik bedank vir hul besonderse vakmanskap.

 

Die pragtig ontwerpte en doelgemaakte volkolf-Mannlicher het teen my wang en skouer nesgeskrop. Deur die 9x40-vergroting van die Bushnell-teleskoop het die drie bulle my oog gevang. Daar was koeie en kalwers ook by, almal wei-wei op pad na die digte rivierbos. Kortkort het hulle stilgestaan en kop omhoog die wêreld na alle kante toe bespied – magies, misterieus, manjifiek... ’n Paar treë voor my was ’n doringboom. Die tak waarop ek die Mannlicher vir ’n doodskoot kon laat rus, het ek reeds met ’n geoefende oog uitgesoek gehad. Asof uit die niet het ’n vierde bul ’n entjie agter die ander drie tot binne-in die teleskoop se lens gestap. Hy was meer in die oopte as die ander drie. Stadig het die Mannlicher effens na regs geskuif... Die afstand was ongeveer 150 tree.

 

Dadelik was my beterwete weer aan die woord: Moet jy die skoot waag? Is dit nie te ver vir die 159 greinloodpunt nie? Wat as dit nie ’n doodskoot is nie en jy moet ’n bloedspoor in die skemer volg? Erger nog, wat as daar nie ’n bloedspoor is nie? Vele doodskote in die verlede met dié spesifieke jaggeweer het my gerusgestel dat hierdie skoot binne my vermoë was. Karamojo Bell se sukses met die Mannlicher en sy geloof in dié kaliber het my verder oortuig dat dit sy werk goed sal doen. Die Mannlicher het vas oor die dooierustak gelê en die teleskoop se kruishaar het nie ’n millimeter van die teiken gewyk nie. Daar waar die bok se kop en nek bymekaarkom, was die naaste wat ek aan ’n Bell-breinskoot kon kom. My vinger het stadig om die sneller gekrul...

 

Ek kon nie help om op daardie oomblik die horlosie ’n honderd of wat jaar terug te draai nie. Dadelik was ek terug in Portugees-Oos-Afrika. Voor my geestesoog het ek weer koloniale stempels op vergeelde dokumente gesien, weer ivoordraers se vrolike Afrikaklanke rondom kampvure gehoor, weer die absolute vryheid van die Afrikaveld beleef en weer die gevoel van ’n Mannlicher in my hande ervaar. Hoeveel keer het Karamojo Bell nie só op ’n koedoe vir die kospotte aangelê nie, was die laaste gedagte wat deur my kop gegaan het voor die skoot die heimwee aan ’n vervloë Afrika skielik kortgeknip het.

 

Die troppie koedoes het uitmekaargespat, maar een bul het makeer. Haastig het ek in die rigting gestap waar die bok gestaan het. Van ver af reeds het ek die boonste krulhoring in die geel gras gewaar. Die laaste strale van die son was nou amper weg en ek het bykans in skemerte by die pragbok aangekom. Toe ek terugkyk na die doringboom van waar ek geskiet het, het ek Pietman met ’n groot glimlag sien aankom.

 

“Ek het sommer gehoor daai skoot was raak, toe begin ek solank in dié rigting stap,” het hy glimlaggend gesê. Presies daar waar die kop en die nek bymekaarkom, was die ingangswond duidelik sigbaar. Ek kon nie help om my aan die perfekte skoot op die bok te verwonder nie. “Daardie Mannlicher is darem baie akkuraat,” het Pietman my gedagtes gelees te midde van die skemer wat rondom ons toegesak het.

 

Nie net akkuraat nie, het ek gedink, maar ook ’n baie spesiale kaliber in my geweerkluis. Waar die Mannlicher meer as ’n eeu gelede een van die gewildste jaggewere van sy tyd was, is dit vandag meer van ’n versamelstuk as ’n gewilde jagkaliber.

 

Die status wat veral iemand soos Karomojo Bell aan die Mannlicher verleen het, is egter vandag nog steeds blywend. Om ’n Mannlicher in jou hande te neem, is ’n baie spesiale ervaring, veral as die meer as ’n honderd jaar oue kaliber nog súlke doodskote skiet. Dit plaas jou onmiddellik in die geselskap van groot name soos Bell, Hemingway, die Percival-broers, John “Pondoro” Taylor en andere, asook op klein- en grootwild se spore in Afrika. Of dit nou destyds was om iets vir die pot te jag, honderdponders in Portugees- Oos-Afrika, of bloot koedoes en elande op ’n pa-enseun- jag in die 21ste eeu, die 6.5x54 Mannlicher-Schönauer staan definitief sy man tussen ander in die galery van jagkalibers.

bottom of page