SA JAGTER/HUNTER | Januarie- Februarie 2023 | Deur HERMAN JONKER
LESSE GELEER: DIE ELANDE VAN DIE NUANETSI
Die moeilikste jagtogte skep dikwels die beste herinneringe.
Sukses is nie noodwendig altyd die maatstaf van ’n goeie jag nie. Om die waarheid te sê, een jag wat my bybly, was een waartydens ek nie eens ’n skoot geskiet nie. Dalk onthou ek dit juis omdat ek onsuksesvol was. En natuurlik ook omdat dit so ’n séér jag was. Die 350 000 hektaar-Nuanetsi Ranch in die laeveld van Zimbabwe was vroeër jare een van Suider-Afrika se legendariese jaggebiede. Saam met die Zambezivallei en Zambië se Luangwavallei roep dit beelde op van wye, wilde Afrika, hoewel die Nuanetsi ’n reusebeesplaas was en die meeste gevaarlike goed daarom grootliks uitgeroei was. Hierdie massiewe stuk bosveld in die suidoostelike hoek van die land, naby die Gonarezhouwildtuin en vlak duskant die Limpopo, het egter steeds avontuur belowe. Wild was volop en die ruimte was aangrypend, veral vir Suider-Afrikaanse jagters wat met plaasgrense genoeë moes neem in hul eie land. Jagbeurte vir die verskillende sektore is jaarliks per veiling verkoop, en in 1990 kon ons daarin slaag om Bubye, met ’n gepaardgaande wildpakket, vir tien dae te bekom.
Lesers wat Zim ken, sal weet van die Lion & Elephant-hotelletjie daar langs die oostelike hoofpad. Ons kamp was nie ver daarvandaan nie, op die oewer van die Bubyerivier. Die kamp het bestaan uit ’n paar tak-engras- skuilings met basiese wasen vuurmaakgeriewe. Twee amptelike gidse/monitors is voorsien, maar origens moes ons self sorg vir voertuie, personeel en logistiek. Om al hierdie dinge in plek te kry vir drie jagters wat oor tien dae ’n groot aantal diere in ’n reusegebied sonder veel infrastruktuur wil skiet, verg nogal heelwat reëlings. Spoorsnyers, slagters, drywers en ’n kok is nodig. As jy heeldag hard jag, het jy nie nog kans om na al hierdie funksies om te sien nie. Ons moes dus personeel in diens neem en daarby moes toerusting en ’n aansienlike klomp proviand aangekarwei word.
Met twee Zim dollar vir ’n rand as ’n goeie ruil en ’n boom se skadu as werwingskantoor, het ons die nodige begin bymekaarkry en was gereed om op die gegewe datum die kamp te betrek en te begin jag. In ’n plek soos die Nuanetsi is elke dag ’n nuwe avontuur. Soggens voordag lui die kok die dag in met bekers stomende koffie wat hy by die slaapskuiling bedien. Daarna is dit veld toe om teen ligdag by ’n watergat na vars spore te begin soek, soms so ver as 20 of 30 kilometer van die kamp af. Ons jag afsonderlik, elke dag twee man in die veld, elk met sy eie gids, spoorsnyer en drywer, terwyl die derde man diens doen by die kamp. Daar is karkasse wat herwin moet word, al die take rondom die kamp en slagplek, asook die wegry van vleis na ’n afgeleë slaghuis waar ons ’n mark gekry het.
Soos die dae verbygaan, groei die velle aan waar hulle uitgepen lê – sebras, rooibokke, koedoes, kameelperde, blouwildebeeste en nog meer. Ons werk hard en die diere kom in. Op die rookrakke en drade waar die personeel hulle huisvleis droog, begin dit soos ’n makabere slagplaas lyk.
Eland bly my egter ontwyk. Met twee dae oor en ons kwota origens vol, kan ek my uiteindelik toespits op die soek van hierdie bul der bulle. Douvoordag ry ek weer veld toe met my span. Ek is gefokus. Ná meer as ’n week van harde jag is die geweer tuis aan my skouer en my bene gebrei. Ons kry ’n belowende spoor by ’n watergat en volg hom die bosse in. Ons volg ook die gewone prosedure. Die voertuig bly agter en die drywer stap agter die jaggroep aan. Hy sleep ’n stok om ’n duidelike spoor te laat. Wanneer iets geskiet word, kan hy dan op sy spoor terugloop en terselfdertyd ’n roete uitsoek waarlangs hy die voertuig kan inbring sodat die dier gelaai kan word. Intussen kan die jagter en sy gidse ’n draai loop op soek na verdere kanse. As daar niks geskiet word nie, word die drywer teruggestuur om die voertuig te gaan haal en verder vorentoe te verskuif na ’n bekende punt. Sodoende word die jagter se tyd nie verspil nie en word hy nie beperk tot sirkeljagte nie.
Die elandspoor neem ons ver, maar ons kry nie sy einde nie. ’n Meer belowende spoor laat ons weer daarop afdraai. Die mis is nog gelerig en klam en die oorhoofse takke wat met die horings afgehaak is om aan te vreet, toon skaars tekens van verwelking. Benewens spore soek, fynkam ons ook die eindelose bos vir enige geluk wat hom mag voordoen. Ons lê kilometers af en ons kry elande, maar dit sukkel.
Met sy uitstekende gehoor en reuksin is die Livingstone-eland ’n ware uitdaging. Dit verg konsentrasie en fyn veldkuns om hom in hierdie wêreld van bossavanne, mopanie, oewerwoude en miombo te vind en dan boonop onder skoot te kry. Elke keer as ons binne trefafstand kom, loop iets skeef. Die windjie drentel en draai en kort voor lank is die elande skoonveld. ’n Ander keer is dit weer die gids wat nalatig is en ons posisie verraai. Die geringste kraak van ’n stokkie onder iemand se voet laat die groot liggame geluidloos tussen die bosse verdwyn. Dan is daar ook nog daardie frustrerende toedrag van sake wanneer die elande staan en jy sien hulle, maar jy sien nie wat jy móét sien nie. Al wat sigbaar is deur die takke is ’n been hier, ’n stert daar. Jy hoor hulle en jy ruik hulle, maar ’n oop skoot kry jy net nie. Ook nog die teleurstelling as jy ná baie moeite uitvind ’n trop bevat nie daardie bul waarna jy op soek is nie.
Só leer ek dat elande in die bosveld nie maklik is nie. En ek leer op die harde manier dat wanneer hulle genoeg aanstoot kry en hulle slaan daardie skoffeldraffie in, gaan hulle ver. Verder as wat jy sou dink. Ek maak baie foute; dis my eerste werklik toegewyde jag op hierdie ontwykende skimme van die bos.
Die hele dag lank jag ons die groot spoke. Dan op dié spoor, dan weer agter ’n ander trop aan wat ons raakloop. Die pas wissel van roerloos wag tot haastig draf om te probeer voorlê. Die laeveld het weliswaar nie berge en dale nie, maar hy is wyd, al sien jy nie ver nie. Plek-plek is dit skuifelruig, dan is daar weer kronkelende, droë sandlopies wat aan die voete rem, maar bruikbare roetes is om langs te beweeg. Toe ons teen donker by die kamp aankom, kan ek aan my lyf voel die jag begin sy tol eis. Die kok se vuur brand egter hoog, sy warm water stoom en sy ete gee weer krag.
Die volgende dag – my laaste kans – volg min of meer dieselfde patroon. Met die tydsdruk maak ek die fout om haastiger op die spoor te raak en sodoende maak ons nóg meer foute. Hier voor die middaguur besef ek die spoorsnyer begin hom loslieg uit ver stap uit. Hy het duidelik genoeg gehad van my verbete agtervolging van ontwykende elande. Ek werf vir my ’n ander kêrel by ’n nabygeleë kraal, een wat nog nie ’n vol maag en ’n sak vol vleis het om huis toe te vat nie. Met hierdie vars man vat ek weer die bos. Dis ’n lang soektog, maar dit loop weereens op niks daadwerkliks uit nie. Toe ek kort voor sononder uitgeput rigting inslaan kamp toe met die hoeserige ou Land Rovertjie, besef ek eland is my nie op hierdie jag beskore nie.
Skaars 5 kilometer van die kamp af kom ons op ’n trop elande af wat die pad kruis, maar ons sien hulle te laat en hulle slaan op die vlug. Ek laat die voertuig daar en ons pak vir oulaas weer ’n kat-en-muisagtervolging aan, ’n hele ent die bos in. Die naderende skemer steek egter ’n stokkie voor die spoorsny en laat ons handdoek ingooi. Op pad terug na die voertuig kan ek voel my bene het genoeg gehad van eland jag; veral my linkerknie protesteer. Toe ons die kamp ’n halfuur later haal, pyn daardie knie behoorlik. Kort voor lank kan ek nie op hom staan nie. Dit brand, soos sout wat die elande in my wonde vryf, en die nag raak ’n lang, slaaplose een van rondrol met uiterste pyn.
Die volgende dag is dit kamp oppak en personeel, vleis en velle wegry. Die taak val op my jagmaats. Ek kan nie veel meer doen as lê en pynpille knaag nie. Betroubare mediese sorg is daar nie te haal binne die beskikbare tyd nie. Ek sal eers die dag daarna by ’n dokter kan uitkom wanneer ons die grens oorsteek op pad huis toe. Een van die gidse gaan kap vir my ’n paar krukke in die bos. Met dié kan ek darem oor die weg kom, want ek kan glad nie my gewig op die geswelde knie plaas nie. Enige beweging raak ’n hewige stryd teen pyn.
Baie kampvure se rook het sedertdien in my oë getrek, maar ek hou steeds daardie paar krukke om my te herinner aan ’n uitstaande jag. Die elande van die Nuanetsi het gewen, ja, maar ek het eland gejág. Twee dae lank, donker tot donker, op een spesifieke doel gefokus. Ek het spore gewerk, wind gemonitor, bekruip, en die ruim laeveld intens beleef. Selfs ’n paar keer aangelê in afwagting op die bul wat homself net moes wys. Net die skoot moes nog klap. In die proses het ek baie geleer en ervaar. Sou ek dieselfde kon sê as ek binne ’n uur of twee my eland gemaklik geskiet het?