SA JAGTER/HUNTER | Augustus 2022 | Deur FRANCOIS VAN EMMENES
HORNADY DGX-AMMUNISIE
Hornady se DGX-ammunisie is ’n aantreklike opsie vir grootkaliber-geweereienaars wat nie self herlaai nie.
Soos genoem in die Steyr Mannlicher-artikel wat in die Augustus 2022-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER op bladsy 12 verskyn het, is dié geweer met Hornady se 300 grein DGX- (Dangerous Game eXpanding) ammunisie getoets. Ek het hierdie ammunisie al by verskeie geleenthede gebruik, insluitende ’n buffeljag, en die werkverrigting het my nog elke keer beïndruk. Die nuwe reeks DGX-koeëls is in 2018 bekendgestel.
’N MEERDOELIGE KOEËL VIR ALLE OMSTANDIGHEDE
Nie almal wat jag, herlaai noodwendig nie. Dis hier waar ’n betroubare, akkurate koeël, veral een wat oor onbetwisbare terminale vermoëns beskik, belangrik is. Eienaars van grootkalibergewere wat een handelsnaam se patrone gebruik, maak nie saak wat hulle gaan jag nie, verlang dus ’n patroon waarmee hulle in alle omstandighede sagtevel-wild asook buffels kan aanvat. Hornady se DGX is ’n “premium”-koeël, soos dit al etlike jare bekendstaan, en die loodkern en mantel is aan mekaar gebind. Dit voorkom dat die kern en mantel skei as dit die dier penetreer en verhoed dus gewigsverlies, oormatige uitblomming en algehele fragmentasie, wat op sy beurt weer penetrasie negatief beïnvloed.
Om die balans reg te kry is nie maklik nie en sit nie in elke vervaardiger se broek nie, maar ek glo Hornady het ’n wenresep hier beet.
Tydens die toets van die Steyr/Steiner-geweer/teleskoopkombinasie het ek met die voorlaaste drie patrone ’n groepering van 11,90 mm op 100 m geskiet – uitstekend volgens enige standaarde. Uit vorige ondervinding het ek geleer dat ’n mens nie sommer maklik ’n DGX-koeël herwin nie; dit fluit deur selfs die grootste blouwildebeesbul as jy hom op die knoppe skiet. Ek het toe eerder die pragmatiese uitweg gevolg en die koeël aan een van die veeleisendste toetse denkbaar onderwerp deur dit in ’n sandwal in te skiet. Hierdie soort toets is natuurlik in geen opsig vergelykbaar met ’n dier se anatomie nie, maar dis ’n strawwe vuurdoop vir enige koeël en beslis meer veeleisend as spiere, organe en been.
Die DGX-koeël het nietemin 195,2 grein van sy oorspronklike 300 grein behou en mooi tot dubbel die kalibergrootte omgeklink. (Let op hoe die lood nog aan die mantel vassit op die foto.) Die verpakking dui ’n loopspoed van 2 530 vps aan. Die drie skote wat hierbo genoem is, se spoed was onderskeidelik 2 460, 2 473 en 2 464 vps – slegs 13 vps verskil tussen die hoogste en laagste spoed.
Hornady se DGX-koeëls is ’n aantreklike opsie vir eienaars van grootkaliber-gewere wat nie self herlaai nie. Die .375 H&Hammunisie kos R2 350 vir ’n pak van 20.
Skakel gerus Inyathi Sporting Supplies by 012-808-9911 vir groothandelsnavrae.