SA JAGTER/HUNTER | Januarie-Februarie 2022 | Deur THINUS STEYN
DIE ROL VAN HANDWAPENS IN DIE JAGVELD
Wanneer die meeste jagters aan handwapens dink om veld toe te neem, dink hulle aan jagwapens – iets soos ’n Ruger Super Blackhawk, ’n Thompson Contender of selfs een van daardie grendelaksiehandwapens wat eintlik maar ’n geamputeerde jaggeweer is.
Hoewel dié soort handwapen wel ’n rol in die jagveld as ’n jagwapen speel, handel hierdie artikel oor minder indrukwekkende en meer draagbare pistole of rewolwers wat nie as ’n primêre jagwapen aangewend word nie, maar ’n aanvullende funksie het.
MAAR HOEKOM?
Ek kyk soms na die pakkasie wat ek op ’n jagtog saamdra en verlang terug na ’n eenvoudiger tyd toe ’n gelaaide geweer, ’n mes, ekstra patrone en miskien ’n waterbottel of lemoen al was wat ek saamgeneem het. Deesdae is daar ook ’n verkyker/afstandmeter, GPS, multitool, tweerigtingradio, selfoon, klein noodhulpsakkie en ’n ammunisiehouer met addisionele patrone aan my persoon wanneer ek gaan jag. Nou hoekom sal ’n jagter homself nog meer wil straf deur boonop ’n handwapen saam te dra? Jy hét mos ’n geweer.
DAAR IS WEL ’N PAAR GELDIGE REDES OM ’N HANDWAPEN TYDENS ’N JAGTOG SAAM TE NEEM.
GENADESKOTE (COUP DE GRÂCE)
Hoewel ons as jagters poog om die dier wat ons jag vinnig en met een skoot te dood, werk dinge nie altyd presies uit soos wat ons wil hê dit moet nie.
Soms is ’n tweede skoot met ’n jaggeweer die enigste werkbare oplossing. Indien moontlik, wil ’n mens egter ’n geïmmobiliseerde, lewendige dier se lyding beëindig sonder om meer vleis te verloor of ’n trofee onherstelbaar te beskadig.
’n Mes kan in die meeste gevalle gebruik word om die nekslagaar af te sny of tussen die eerste nekwerwel (atlas joint) en skedel in te steek om die rugmurg af te sny. Laasgenoemde verg baie oefening om suksesvol uit te voer. Selfs eersgenoemde is nie altyd so maklik wanneer die dier hom nog kan teensit nie.
Jare gelede, tydens ’n gestoei met ’n takbokram wat nie so dood was as wat ek gedink het nie, het ek byna my eie duim geamputeer in ’n poging om die ram se eerste nekwerwel te ontkoppel.
Sommige wildsoorte wil jy in elk geval nie met ’n mes aanvat nie. Toe ek as beroepsjagter begin werk het, het my mentor amper sleg daarvan afgekom toe ’n “dooie” gemsbok besluit het om terug te steek. So ook het ’n kliënt van my hewige teenstand ondervind van ’n blouwildebees wat hy wou uitbloei. Hoewel hierdie situasies by nabetragting skreeusnaaks was, sou beide minder goed geëindig het as ’n persoon met ’n vuurwapen nie tussenbeide getree het nie.
’n Kennis was minder gelukkig. ’n “Dooie” vlakvark het sy arm oopgeskeur terwyl hy besig was om die vark aan die tand uit ’n bos te sleep. ’n Breinskoot voor die slepery sou hom ’n hospitaalbesoek en ’n reeks steke langer as ’n ritssluiter gespaar het.
’n Breinskoot met ’n handwapen op ’n kort maar veilige afstand is ’n menslike en veilige manier om ’n dier se lyding te beëindig. Dié soort skoot met ’n handwapen en ’n soliede koeël veroorsaak ook minimale skade aan ’n trofeedier se skedel en masker (cape). Indien jy dit verkies, kan jy steeds die nekslagaar sny nadat jy die skoot toegedien het.
SKOOTPLASING VIR ’N GENADESKOOT
’n Skoot van agter, daar waar die eerste nekwerwel en die skedel ontmoet, werk baie goed. Dit laat jou ook toe om die dier van agter te benader, soos jy moet.
’n Syaansigskoot tussen die oorholte en oog is doeltreffend en die enigste werkbare opsie vir groter bokke indien jy ’n marginale kaliber of koeël gebruik. ’n Frontale breinskoot is effektief met ’n kaliber- of koeëlkombinasie wat voldoende penetreer. Dit is egter nooit ’n goeie idee om ’n gekweste dier van voor te benader nie.
’n Frontale breinskoot is effektief met ’n kaliber- of koeëlkombinasie wat voldoende penetreer. Dit is egter nooit ’n goeie idee om ’n gekweste dier van voor te benader nie.
Onthou dat die hoek waarteen jy skiet, skootplasing gaan beïnvloed. Maak seker dat jou medejagters en/of gids agter jou is wanneer jy skiet.
AMMUNISIE VIR ’N GENADESKOOT
Soliede koeëls (gegote, FMJ of CMJ) werk die beste aangesien hulle beter as holpunt- of sagtepuntkoeëls penetreer.
SELFBESKERMING
Jagters wil uit die aard van die saak wegkom van hul daaglikse probleme en stres wanneer hulle gaan jag. Die realiteit is egter dat die kriminele element nie noodwendig wetsgehoorsame jagters se wense respekteer nie.
’n Versteekte handwapen aan jou persoon en die regte gesindheid en opleiding maak jou nie minder van ’n teiken nie. Dit maak jou egter ’n moeiliker teiken wanneer jy om die kampvuur ontspan, met jou jaggeweer veilig in die jaghuis se kluis toegesluit, asook tydens jou reis na en van die jagbestemming.
Gewelddadige misdaad is die laaste ding waaroor ons wil dink wanneer ons tyd in die natuur deurbring, maar ongelukkig is dit ’n realiteit.
DIE ONVERWAGTE
Daar is nog ’n rede. Laat ek jou voorstel aan my vriend Murphy. Die wet, volgens Murphy, is dat indien iets kán skeefloop, sál dit. Laat my toe om dié wet met twee gevallestudies te illustreer.
Geval 1
’n Koue wintersoggend in die Suid-Vrystaat. Ek skiet ’n reusevlakvarkbeer met my 7x57 en laai hom met ’n groot gesukkel agterop die Land-Cruiser. Op pad na die slagplek ry ek by my huis verby en besluit om vir ’n beker boeretroos te stop. Ek loop agterom die Cruiser. Die beer staan op wankelrige bene agterop die bak en maak sulke mik-mik-bewegings in my rigting. Ek los dié onverwagte probleem met ’n 9mm-koeël tussen sy oë op. Ten spyte van die kort afstand (±2 meter) voel ek dat dit een van die beste skote van my loopbaan was, hoofsaaklik vanweë die omstandighede.
Geval 2
’n Nat somersoggend in die Suid-Vrystaat. Weereens ’n vlakvarkbeer. Die 180 grein Barnes TSX-koeël uit ’n .300 Winchester Magnum tref die vark effe hoog op die blad en hy tuimel in ’n erosiesloot af. Ek benader die rand van die sloot versigtig en ontleed die situasie. Die vark lê op sy sy onderin die sloot. Hy lyk dood. Ek mik op sy kop maar trek nie die sneller nie. Hy ís dood. Ek maak my skietstokke staan op die rand van die sloot, hang die gehawende ou Howa aan die geweerband aan die stokke, en klouter af om die vark teen die wal op te sleep.
Onderin die sloot bekyk ek hom weer en wonder hoe ek ’n vlakvark, wat ongeveer dieselfde as ek weeg, teen ’n modderige wal van 2 meter hoog gaan uitsleep. Ek weet sommer ek gaan ’n probleem hê en ek is toe reg…
Skielik knip die “dooie” vark sy oog. Hy is omtrent 5 meter van my af. Ek gryp na die ou Star BM op my heup. Die vark voel oënskynlik nou heelwat beter, spring op en hardloop – reguit in my rigting. Ek kan nie onthou dat ek gemik of geskiet het nie, maar ek móés, want toe ek weer tot verhaal kom, lê die dooie vark se modderige snoet ’n kort tree van my voete af. Ek skiet hom nog twee keer, net om seker te maak. Dan gaan sit ek in die modder totdat my bene ophou bewe. Ek sou graag wou sê dat dié een van die beste skote van my loopbaan was, maar ek ken ’n vloekskoot as ek een skiet.
GESKIKTE HANDWAPENS
Baie jagters wat handwapens koop om gedurende ’n jagtog te dra, glo dat groter beter is. ’n Massiewe langlooprewolwer in .454 Casull of .44 Magnum, of ’n .50 AE Desert Eagle-pistool lyk baie indrukwekkend, maar dié soort handwapen bly gewoonlik ná die eerste jagdag in die kluis by die jaghuis.
Indien jy reeds ’n handwapen vir selfverdediging dra, is die keuse vanselfsprekend: Bring die wapen waaraan jy gewoond is. Indien jy ’n wapen spesifiek vir dié doel koop, wees realisties. Jy soek ’n handwapen wat jy heeldag gemaklik kan dra – verkieslik sonder om aan die hele wêreld te verkondig dat jy wel gewapen is.
Jou handwapen moet akkuraat genoeg wees om breinskote betroubaar op ’n kort afstand (2-5 meter) te kan skiet. Dit moet ’n koeël lanseer wat voldoende penetreer om selfs ’n groot wildsbok se brein te bereik.
PISTOOL OF REWOLWER?
Wat pistole betref, is die 9mm Parabellum die minimumkaliber wat ek sal aanbeveel. Tans gebruik ek ’n Glock 43 9mmPpistool met handgelaaide 147 grein CMJ-koeëls. Voor ek die Glock aangeskaf het, het ek jare lank ’n Star BM 9mmP baie suksesvol gebruik. ’n Kompakte of subkompakte 9mmP-pistool is ’n praktiese keuse vir die jagter omdat dit gemaklik is om te dra en jou ook doeltreffend teen tweebeenroofdiere kan verdedig.
Goeie kwaliteit holpunt-ammunisie is egter ’n beter keuse vir selfverdediging. 9mmPammunisie en herlaaikomponente is relatief goedkoop en vrylik beskikbaar.
Volgens my ondervinding is die .22 LR en 9mmK (.380 ACP) nie kragtig genoeg vir genadeskote op wildebeeste en elande nie, maar werk goed op kleiner wild.
Die .40 Smith & Wesson (S&W), 10mm-outo en .45 ACP is almal goeie kaliberkeuses. Die enigste werklike nadeel van ’n pistool is dat jy heel waarskynlik ’n klompie doppe tydens die jagseisoen gaan verloor.
Is jy ’n rewolwerentoesias, is ’n .22 Magnum Randslag-rewolwer met ’n 4”-loop en soliede koeëls ’n goeie keuse. ’n .38 Special-rewolwer sal werk op voorwaarde dat jy ’n warmgelaaide koeël van 150 grein of swaarder skiet.
’n .357 Magnum-rewolwer met ’n loop van 4” of korter is ’n puik keuse. Ek is baie lief vir .357 S&W-rewolwers en het lank ’n S&W Model 19 met ’n 4”-loop gedra.
Tans gebruik ek soms ’n S&W 686 met ’n 2½”-loop. Gelaai met 158 grein-, gegote platpuntkoeëls, lewer dié kaliber puik akkuraatheid en meer as voldoende penetrasie. Die enigste nadeel van hierdie rewolwers is dat hulle bonkig en swaar is. Groter kaliber rewolwers (.41 Magnum, .44 Magnum, .45 Colt en .454 Casull) is nóg groter en swaarder.
Soos met enige vuurwapen, is jou vermoë om dit akkuraat aan te wend, uiters belangrik. Gelukkig is handwapenammunisie relatief goedkoop, veral as jy herlaai. Oefen gereeld en raak vertroud met jou handwapen voor jy veld toe gaan.